‘n
Olifant eet gemiddeld 1 ton per maand. Só druk die indrukwekkende dier
plantmateriaal in sy groot gapende keelgat met sy massiewe slurp waarna dit
vlugtig verdwyn in sy diep donker verteringskanaal... Die proses word vinnig herhaal as nog ʼn slurp
vol opgeraap en ingesluk word.
As
mens in die wildtuin olifante dophou en sien hoe hulle alles in die onmiddellike
omgewing opraap en verslind, dan kan jy nie help om met kommer te wonder of
daar oor 10 jaar nog kos vir hulle wees om te eet nie...
Die
weegskaal voel ongebalanseerd... Dit voel of die olifant se verbruikstempo die
plante se vermoë om te vermeerder oorskry.
Gelukkig
vir die olifantspesie, bly hulle op die kontinent Afrika – met lande vol
vrugbare grond en ruie bosvelde... Lande waar hulle nie sommer sal honger lei
nie.
Dit is die wit olifante waaroor ons meer bekommerd moet wees as die volbloed
olifante. Volgens Wikipedia is die term “wit olifant” ʼn idioom vir ʼn
waardevolle maar nuttelose item waarvan die eienaar nie ontslae wil raak nie, en
die koste van die instandhouding van die item is hoër as die waarde van die nut
wat uit die item geput kan word.
Die
term is afkomstig van die storie dat die konings in Siam (nou Thailand) daarvan
beskuldig was dat hulle ʼn wit olifant aan ander “geskenk” het om sodoende die
ontvanger van die item te ruïneer met die instandhoudingskoste van die geskenk.
In ʼn moderne konteks is ʼn “wit olifant” ʼn item, besigheidsonderneming, ʼn
sentrum ens. wat nie die doel dien wat dit veronderstel is om te dien nie.
Werkskeppingsprojekte:
ʼn wit olifant
Een
van hierdie “wit olifante” is werkskeppingsprojekte. Werkskeppingsprojekte word deur baie
organisasies te maklik aangepak deur “bleeding heart” individue met hulle eie
idees van wat behoeftiges regtig tot onafhanklikheid gaan lei. Hulle dink
namens die behoeftiges in wie se naam hulle die projek wil aanpak.
Die
natuurlike of volgende stap is dat hulle ʼn gemeenskapsentrum wil begin waarin
hierdie werkskeppingsprojekte moet funksioneer. Hoekom wil gemeenskapswerkers
altyd ʼn gemeenskapsentrum begin sodra daar van werkskeppingsprojekte gepraat
word? Is dit omdat hulle self ʼn ideale milieu soek om in te funksioneer of is
dit ʼn onselfsugtige manier om maksimale impak in die gemeenskap te hê?
Tweedens,
buiten hierdie gemeenskapsdienaars se eie salarisse en byvoordele wat die
eerste groot hap uit die befondser se sak vat, hap die uiters noodsaaklike
gemeenskapsentrum ‘n volgende groot gat in die organisasie se begroting.
Die befondser
Kom
ons dink ʼn oomblik oor die befondser. Die befondser is iemand wat ʼn gedeelte
van sy verdiende inkomste afstaan, soms op ʼn maandelikse basis, met die
veronderstelling dat die geld wat hy afstaan direk armoede sal verminder.
Hierdie geld is waarskynlik deur hom bewillig na ʼn “nerve toucing” bemarkingsvoorlegging wat armoede vir hom op ʼn baie
emosionele wyse uitgewys het.
Die sentrum
Nadat
die salarisse en byvoordele van permanente aanstellings van ʼn organisasie se
begroting afgetrek is en die gemeenskapsentrum operasioneel is, dan moet die
oorhoofse instandhoudingskostes nog in ag geneem word.
O gaats! Nou onthou ons dat daar
werkskeppingsprojekte ontwikkel moet word! Afgewaterde werkskeppingsprojekte is
dikwels die gevolg hiervan. Die instandhouding van die gemeenskapsentrum en
kantore is dikwels die eerste prioriteit. Op die ou einde word poste vir
gemeenskapsontwikkelaars geskep en behou, en die werkskeppingsprojekte om die
armoede kringloop te verbreek, is nie die fokuspunt nie.
“In die naam van
armoede”
Soms
kom organisasies weg daarmee om in die naam van armoede eintlik net hulle eie
organisasies in stand te hou... En in die land van die blinde word
werkskeppingsprojekte begin op grond van “trail
& error.”
Interne politiek bly dikwels die nommer een
fokuspunt in organisasies, en omdat kennis oor gemeenskapsontwikkelings soms
totaal en al ontbreek, is dit makliker om op interne organisasie dinamika, die
instandhouding van die organisasie, of bekender terreine soos bemarking te
fokus.
Om
die onsekerheid en toenemende druk in organisasie te bestuur, word die een
prosedure en beleid na die ander saamgestel. Om die beleide en prosedures deur
te voer, en te kommunikeer, neem dikwels baie meer tyd as die rede waarom die
organisasie oorspronklik tot die lewe geroep is naamlik armoedeverligting. Die
gevolg is dat die armes arm bly of armer word en die organisasie goed op dreef
is en dikwels baie groei... Maar wat dan van armoede verligting?
Befondsing
Dit
is amper jaareinde en potensiële befondsers moet beïndruk word sodat volgende
jaar se begroting moet klop. Bemarkers moet uithaal en wys... Waar is die
gemeenskapsontwikkelaars met hulle werkskeppingsprojekte?
Jare
gaan verby.... en begrotings groei na letterlik miljoene... Die ironie is dat
daar steeds geen volhoubare werkskeppingsprojekte in plek is nie...
Vrywilligers
word net so afhanklik gemaak soos behoeftiges... En afhanklik gehou van die befondsende
organisasie. Befondsing sak weg in die diep put van operasionele kostes.
En
nou kyk ons na die organsasie... ʼn wit olifant....ʼn waardevolle maar nuttelose
“item” waar die koste van die instandhouding van die “item” hoër as die waarde
van die nut wat uit die item geput kan word.
As
ons mooi kyk sal ons besef iets is liederlik verkeerd... Hoeveel vohoubare
langtermyn oplossings is daar al vir armoede geskep? Armoede het nie nuwe
bemarkingsfoefie geword om rykes te laat goed lyk en voel?
Skielik
besef ons dat daar is iets liederlik verkeerd! Armoede staan onaangeraak...
Dieselfde probleme en dieselfde hartseer gesigte op die agtergrond... ʼn
dreigende wit olifant op die voorgrond wat skree: voer my, voer my! ʼn Wit
olifant gebou met baie mense... Mense wat in die naam van armoede die geld wat
vir die armes bedoel was onderskep het... En die armes afhanklik hou moet
voeding en ander voel-goed projekte.
Hoe
begin mens ʼn werkskeppingsprojek?
Wat
kom eerste: die hoender of die eier?
Wil
jy nog informasie op die onderwerp he? Stuur jou vrae aan info@a2bmovement.com
No comments:
Post a Comment